Niks wat ’n mens so vinnig van slegte dinge laat vergeet nie as wanneer ’n kameelperd met haar sagte, deernisvolle oë jou doer van bo af aankyk asof sy (of selfs ’n hy) wil vra: “Nou wat pla jou op so ’n blom van ’n Saterdagmôre, ou maat?”
En dan wil jy vir haar sê jy het nou net hier in die Bosveld, 60 km noord van Thabazimbi, die boodskap gekry dat bek-en-klouseer in die Bokkamp uitgebreek het en dat hulle ’n liederlike loesing doer onner teen die Aussies op die lyf geloop het. Die Bokke is nou in ’n gat wat so diep is dat selfs ’n zama-zama sal sukkel om hulle uit te kry.
Jy hoor van die skande en die “Bomb squad” wat die Bomskok geword het, van Plan B wat moes inskop voordat ons nog ’n Plan A gehad het, van Pollie se tjollies, ensovoorts, maar dan vra kameelperdjie se ogies vir jou: “Hoekom pla daai ou dingetjies jou hier in die bos, ou grote?”