Dis Oktober en jy word met ’n lied in die hart wakker, want dis bloeisels en die feeste laat weer die aarde klop van die Kaap tot doer Inniebos.
Maar almal word nie met ’n glimlag wakker nie, want daar is mos altyd twee soorte mense in die wêreld, naamlik dié wat die glas halfvol sien en die ou negatiewes vir wie daai ou glasie altyd halfleeg is omdat die bril waardeur hulle kyk so donker is.
Dis vir my altyd lekker om die SMS’e in my vroegoggend-koerant te lees, maar kyk, dáár kan onse piepols nou vir jou kla! Oor die skeidsregter van Saterdag, Faf se skoppe, die kerk, beurtkrag of beurtkerk . . . oor iets sal gekla word.