Ek ry laas week wyd deur die Vrystaat, maar ry amper dubbeld so ver as wat die vroutjie op my anti-verdwaalapparaat vir my verduidelik, want ek moet heeltyd óm slaggate navigeer. Dit begin op ’n pad wat tot ’n jaar of wat gelede nog in ’n redelike toestand was, naamlik die een tussen Warden en Bethlehem.
Die gemiddelde slaggat op daai pad is so groot soos een van daai skulpswembadjies van ons kleinkinders. Beland jy in so een, gaan jy vier vellings afskryf en in die veld agter jou lugsakke sit en vloek (dis nou as jy gelukkig is). Ja, só lyk die nuwe gesig van ons kragtelose ou landjie. Krater op krater sonder ’n tikkie skaamte by die agbare raadslede.
Maar dalk ’n paar meer positiewe gedagtes.