As jy ooit in jou lewe wil hoor van ’n goeie kombinasie, is dit nou ’n Bok-wentoets op ’n grootskerm, gekombineer met ’n kerkbasaar, wat op sy beurt gekombineer is met ’n biertuin.
Kyk, mense, nou raak kerk rêrig lekker, julle kan dit gerus probeer! Vergeet van doleer, abdikeer, omkeer en dwaalleer, want as my kerk nog só kan basaar hou, gaan ek nêrens heen nie.
Deur die jare het basaar al kermis, karnaval of lentefees geword, maar solank daar pannekoek, potjiekos, kerrie en rys en basaarpoeding verkoop word, sal dié ou partytjietjie in my boek ’n basaar bly.