Daar is vooraf vir my verduidelik dat ek nasionale Tuindag met ’n glimlag op my bakkies moet vier en dis toe presies wat ek gedoen het. Ek het ’n punt daarvan gemaak om nie ’n steek werk in my tuin te doen nie omdat dit Sondag was (bygesê, ek het nog herstel van Saterdag se niksdoen in my tuin) en het toe net daar op die stoep gesit en vir my tuin geglimlag.
Haai, mense, so van spesiale feesdae gepraat: Om te dink dat Oom Paul vandag 197 jaar oud sou gewees het! Nee, kyk, daai is vir jou ’n mooi geseënde ouderdom en vir die vriende onder 80, dis oudpres. Stephanus Johannes Paulus Kruger van wie ek praat. Ek was lanklaas daar verby, want ’n mens ry nie meer onnodig daar rond nie, maar sou die oom steeds op Kerkplein op sy kierie leun, of is hy en sy vier burgers, duiwe en al, na groener weivelde geskuif? Dalk moet ek ’n slag weer gaan kyk.
Maar ai, kan ons nie maar ons ou vakansiedaggie terugkry nie? Wat sal een ou ekstra afdaggie nou saak maak vir die 34% ouens wat werkloos is en die ander 66% soos ek wat nie hou van werk nie? Ons agbare regering kan dit Presidentedag noem, dan vier ons sommer terselfdertyd Tuindag en oom Jacob se vryheid ná sy uitmergelende 15 maande tronkstraf daar in sy huis.