Ná die naweek se ooraanbod van dik T-bene, vet skaaptjops en lekker regte, egte boereworse, wil ek net simpatiseer met my enkele vegetariese vriende en julle wat so deur die blare is, beeterskap en ’n wonderlike wortelweek in tamatiestraat toewens. En vir al my menigte karnivoorvriende die gevleuelde woorde van Alan Payton wat wyle Arch Tutu so met sy wydgespreide arms so pragtig verdraai het: “Braai the beloved country!”
Die dag wat ek besef het dat ek nooit ’n vegetariër of selfs ’n halwetariër kan wees nie, was toe ek uitgevind het dat blaarslaai my ghout gee. Ek moet darem bysê dat enigiets my ghout gee, maar wat ek toe besluit het, is dat ek maar eerder ná ’n lekker pot osstert groottoonpyne sal verduur as na ’n geknibbel aan ’n slaaikoppie.
Ai, mense, en Braaidag kon selfs nog lekkerder gewees het as daai Franse skeidsslegter nie al die vorige week vir die All Blacks die beker present gegee het nie.