Nou ja, die laaste matriekafskeid is seker nou gehou en nou is dit net die ou eksamentjie en dan die groot matriekjol by die see. O ja, en Pappie en die man van die bank se rekening vir die afskeidsrokkie.
En dit alles hierdie jaar skaamteloos maskerloos. Nie een matriekafskeidmaskerbal dié keer nie. Sjoe, mense, ons het al vergeet presies hoe sleg dit was! Mens wonder of die arme sieletjies wat die vorige twee jaar met sulke virtuele verbyry-afskeidings tevrede moes wees, dit nie maar kan kom oordoen daar by die skool nie?
En dan hou ons sommer my 1969-ene ook weer oor dat ons kan dans en jol eerder as om sedig in die saal na die agbare LUK vir onderwys te moes luister. Dan sal ons ook skelm ietsie daar agter die fietsloods vat op ou Gobba (nou saliger) wat die rekord gehou het, naamlik drie matriekafskeidings.