Ek wonder deesdae baie of daar nog professionele fotograwe oor is. Of selfs van daai ouens wat Saterdagaande gebaadjie en gedas met hul kameras van restaurant na restaurant geskarrel het en drie weke later vir jou die foto van jul ingewynde ou groepie gepos (ja, gepos!) het. Ek dink nie so nie, want nou is elke ou met ’n selfoon mos ’n professionele fotograaf. Ja, selfs Ephraim, ons tuiningenieur, wys vir ons perfekte foto’s van sy kleinkinders.
Maar so het ons oues ook mettertyd die protokol (oftewel die moets en moenies) van selfoonfoto’s geleer. Byvoorbeeld: Jy stuur foto’s van jou kleinkinders net vir ’n ander oupa of ouma en jy stuur nooit, maar nooit Willetuinfoto’s terwyl jy nog daar tussen die diere is nie, want jaloerse vriende is erger as jaloerse vyande.
En as jy die groen duiwel nou rêrig wil losmaak, stuur jy foto’s van jou kleinkinders van oorsee af terwyl jy daar kuier. Ja, nie van Margate af nie, maar van Mexiko of Majorka, en jy, wat gewoonlik nie eens kan bekostig om Bela-Warmbela toe te ry nie, behoort van beter te weet.