Toe ek nou die aand daar by die ou Drostdy-teater in Stellenbosch uitstap ná Frank Opperman se verstommende toneelspel in Ek wens, ek wens, wonder ek by mysellers hoe oud ’n mens moet word voordat jy ophou droom oor daai drie wense wat jou lewe vir altyd kan verander.
Maar as jy daar uitstap, besef jy ook weer jy moet vrek versigtig wees waarvoor jy wens en jy moet maar eerder vrede maak met wat jy het en wat jy nooit gaan hê nie. En dis mos gewoonlik in elke storie of driewens-grappie die laaste wens wat dinge erg laat skeefloop.
Maar as jy lees van die Pierneef wat volgende week opgeveil word vir die miljoen of drie wat jou lewe kan verander, wens jy so in die stilligheid darem steeds jy gaan eendag jou eie Pierneef in oorle oupa se plaashuissolder ontdek en daarmee saam sommer ’n paar Rembrandts. Nie eens noodwendig Rembrandt se skilderye nie, want dis selfs vir die goeie feetjie ’n bietjie onwaarskynlik omdat Oupa Jon sover ons weet nooit Holland toe was vir aankope nie. Nee, sommer net so ’n rolletjie Rembrandt-aandeelsertifikate met ’n rekkie om sal doen.