Sondagoggend (wat eintlik al te laat was) lê ek in die kooi en peins oor wat ek vir Mammie so op Moedersdag kan doen wat oorspronklik, oulik maar tog bekostigbaar is.
Mammie is in dié geval Pop, wat my kinders se mammie is en nie myne nie. Met my ou moedertjie en skoonmoedertjie al lang jare na ’n groener land toe, is ek mos eintlik van die haak af, maar ag, ’n ou bederfie beteken altyd ’n paar ekstra puntjies op die telbord.
En so gaan my gedagtes toe na twee ander manne toe, naamlik oom Jacob en die pous. Nie dat hulle eintlik in een gedagte of sin hoort nie, maar oor oom Jacob wonder ek toe of hy al herstel het van sy hofongesteldheid en sy 80ste verjaardag. Ek wonder toe vir hoeveel mammies en skoonmammies hy gister bederfies moes koop daar by Nskandalig se rondawels.