Hy is jou familievriend, hy is jou hoeder en jou broeder, hy praat hard as dit nodig is (en spuit sommer jou ore uit as jy nie kan of wil luister nie), hy is die ou wat raad het vir als van kroep, koliek, babelas tot gout en die ou wat jou sommer in sy eie sitkamer op ’n drup laat lê en jou ’n Vrystaat Special spuit as jy daai ou seer voetjie het.
Daai man se naam is Oudok Abel en hy is môre 80 jaar oud en van daai 80 al 55 jaar gemoeid en bemoeid met ons ou spul oudstryders se kwinte en kwale.
Iemand wat van daai ver wêreld af kom, vertel eenkeer van die reisiger wat siekerig op Marydale, daar in die Boesmanland, aangekom het en toe vir ’n petroljoggie by die koöperasie gevra het waar die dokter se spreekkamers is.