Toe ek Saterdag daar tussen die Van Buuren-afrit en die Gillooly’s-wisselaar na die skade aan my regteragterband staan en kyk, wonder ek of die ouens wat slaggate tel, weet van daai gatslag wat ek sopas raakgery het.
Ja, sommer net daar op die besige N3! Indien nie, moet Sangat (voorheen genoem Sanral) hom asseblief bytel by die 25 miljoen slaggate wat nou al getel is. Is mý gat deel van die Suid-Afrikaanse Padvreterasie se telling van 10 miljoen meer slaggate as vyf jaar gelede of nie? Sekerlik die snelgroeiendste sektor in ons stotterende ekonomie.
Dit sal my leer om nie meer met laeprofielbande in hierdie suiderland van ons te probeer rondflenter nie en ja, ek moet seker dankbaar gewees het dat ek langs ’n Sangatsnelweg gestaan het en nie soos twee jaar gelede langs die S100 daar naby Satara, oftewel die besigste leeupad in die Willetuin, nie. Ek moet darem erken daai een was nie Sangat se skuld nie, maar ’n groot klip wat van links voor my kar ingespring het terwyl ek na groot katte gesoek het (dis altans my weergawe vir Vroulief toe sy my op die misdaadtoneel dáái kyk gegee het).