Ek doen nie eintlik troues nie, soos die jongklomp deesdae praat. As iemand anders dit nie doen nie, gaan ek waarskynlik die eerste wees wat ’n klag teen ’n bruid indien as sy gaste ure laat wag terwyl die paartjie foto’s neem waarna niemand ooit weer kyk nie.
Ek dink daar moet ’n ordonnansie wees wat troues reguleer. Die hele bedryf, die preek, foto’s, walse, spietse en ete mag nie langer as twee uur duur nie. Finish en klaar. Die ooms kan elders gaan drink en die tannies kan betyds by die huis wees om Binnelanders te kyk. As die bruid tien minute laat is, skryf ’n spietkop ’n boete van R1 000 uit en speld dit aan die bruidsrok vas.
Maar as daar een troue is waarvoor ek graag die uitnodiging in suiwer goud sou wou ontvang, is dit die okkasie die naweek in Pretoorsdorp waar die diamantkoning Louis Liebenberg afhaak. Die mense fluister dat selfs die toiletpapier van goud is! Die gerug onder sy beleggers – wat skinkborde vol geld maak met sy diamantskema – is dat daar selfs diamante in die sjampanjeglase gaan wees. Maar selfs Louis se nuusdiens, Die Waarheid, kan dit nie nou as die waarheid verkondig nie.