Jy kon ons Vrystaters met ’n veer om tik toe ons Maandag wakker word en sien Jacob Zuma het meer wit as swart imbongi’s wat sy lof by die appèlhof in Bloemfontein besing, waar sy appèl oor sy mediese parool aangehoor is. En almal is Afrikaners.
Hoe de heng het dit gebeur? Dit het niks met kleur te doen nie. Klein Camo Careltjie Niehaus was nog altyd die groot tromslaner by Zuma en Ace Magashule se verhore. Maar waar was die ander bere die afgelope dekade toe die land gekaap is en Zuma en Ace die gemors wat onder hul wagbeurt gebeur het op witmonopoliekapitaal blameer het?
Die groep nuwe Zuma-tromslaners is natuurlik ’n klomp diamantdelwers van die Noord-Kaap wat onder die vaandel van Die Waarheid opereer. Hul leier is Louis Liebenberg, ’n ou wat ’n paar maer Nguni-koeie al die pad van die Weskus aangery het om vir Zuma op Nkandla te oorhandig.