Die roudiens van Evan Sorour (28) Saterdag op hul plaas Uitkyk tussen Ficksburg en Rosendal was in baie opsigte ’n roerende en inspirerende gebeurtenis.
Mense het van oral gekom om ’n laaste eerbetoon te betuig aan ’n boerseun wat ’n enorme indruk op almal gemaak het en, soos sy vriende gesê het, ’n impak op hul lewens gelaat het wat vir altyd sal bly.
Gesinne het op komberse gesit en kinders het oor die groen grasperk gespeel. Die Sorours se honde het tussen die mense rondgeloop en toegelaat dat almal hul koppe vryf. Teen die plaashuis se venster was foto’s van die gesin met Evan sentraal in almal. Heel voor was sy ou, verweerde Land Rover Defender-dubbelkajuit presies soos hy elke dag gelyk het. Voorin was ’n skokstok om beeste te beheer en ’n vangstok om sy boerbokke aan te keer. Sy verweerde stewels, hoede en doseerspuit het aan die bakkie se beestralies gehang.