Elke dorp het so ’n vrou: die hart van die gemeenskap wat almal se stories koester en omgee oor ieder en elk. Die oudjuffrou, die bib-tannie, die ma en ouma wat altyd gereed is om moue op te rol.
Ek het in een week ’n draai op ’n paar dorpe in die Vrystaat gaan maak. As kind van die platteland is ek tuis as ek by die eerste straat in enige dorp indraai. Die tempo is anders as die stad. Bome wat skaduwees oor ou, groot stoepe gooi.
By Anel Grobbelaar en die Petrusburg-leeskring is ek al sommer baie tuis. Ons praat oor boeke en mense en ruil boeke uit. As ek nie Marinda van Zyl se Dors hier gekry het nie, het ek ’n lieflike boek dalk nie gelees nie. Dit is hier waar ek altyd tant Minnie Griessel raakloop, ’n boekliefhebber soos min. Die mense hier noem haar “juffrou”, want sy was oor dekades die Engelse juffrou by die hoërskool hier.