In die epiloog van die Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika skryf die historikus Bill Nasson een van Suid-Afrika se trotsste prestasies naas die Kreepy Krauly, die eerste hartoorplanting en pinotage-rooiwyn, is die wêreld se “grootste frats-omkeer” van ’n outoritêre staat na ’n demokrasie.
Hy noem ook dat die SAL die eerste en grootste lugdiens in Afrika was en Eskom het op sy dag meer as die helfte van Afrika se krag opgewek en die wêreld se goedkoopste elektrisiteit verskaf. Yskor het vir yster- en staalprodukte, soos dakplate en driebeenpotte, oor die hele Suider- en Sentraal-Afrika heen gesorg.
In sy ontleding van die “tweede kans” wat die land gebied is, duik woorde op wat nou bykans vergete is en selfs van albei kante van die politieke spektrum op neergekyk word: “Nasiebou”, “reënboognasie van God” en “een nasie, baie kulture”. Is dit nie ironies nie dat van al dié dinge slegs die Kreepy Krauly, ’n swembadskoonmaker wat in die 1980’s ontwerp is, op eie stoom voortwoeker. En pinotage, ja. Daarby kon hy sekerlik brandewyn ook gevoeg het. Maar van die eens trotse SAL, Yskor, Spoornet en ander is weinig oor en Eskom en die demokrasie wankel op ’n hoë afgrond.