Meer as 30 jaar nadat ek laas in Huis Abraham Fischer (Vishuis) op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) was, stap ek Saterdag weer op die Bond van Oud-Vishuismanne se reünie deur die gange van die koshuis.
Die deur van die kamer wat ek en Bokkie Wagener, nou betrokke by rolprente in Hollywood, gedeel het, is gesluit. Hier het ons ’n soort projek bedryf wat nie die normale man-grot vol foto’s van rugbyspelers was nie. Ons het ’n yskas op ’n permanente grondslag geleen, die masjien uitgehaal, hom swart geverf en ’n hi-fi ingebou. Bo-op was ons versameling Rolling Stones-, Pink Floyd-, REM- en Black-albums. Ons sou soms 02:00 in die gange die song vol onaardse geluide uit Pink Floyd se Ummagumma speel. Dit het ’n paar laatkommers laat glo die eindtye is hier.
Ons móés eenvoudig die album A Momentary Lapse of Reason (1987) hê, maar geld was skaars. Toe gaps ons ’n geroeste resiesfiets wat al jare in die binneplein gestaan het en gaan verpand dit by King Kong vir R30. Dit was net genoeg pitte vir die plaat. Bokkie se broer, Wynand, sou by ons kom koffie drink en kyk of ons orraait is. Wynand, oud-voorsitter van die studenteraad, en sy vrou is ’n jaar gelede in ’n ongeluk dood. Langs die kamerdeur is ’n huldeblyk vir Henk Meintjies (2006/2007), wat op 26 Maart 2007 oorlede is.