Om Temba Bavuma te bly kies vir die Proteas kom neer op die sabotasie van die span, lui SA Cricket Magazine se berig voor die Proteas se wedstryd vandag teen Pakistan in die groepfase van die T20-Wêreldbeker in Australië.
Ryan Vrede skryf met die keurders se besluit om met Bavuma te volhard, is hulle willens en wetens besig om die span se kanse te verongeluk om die Wêreldbeker te wen. Is hy reg? Die Proteas is die enigste span wat onoorwonne is met hom as kaptein, maar ons kan op ’n piesangskil gly deur teen Pakistan en Nederland te verloor en skielik met rooi gesigte sit.
Die kans is goed dat Reeza Hendricks vandag bo Bavuma in die span ingesluit gaan word, maar dit is nie die kwessie nie. Wat doen hulle as ons die halfeindstryd en hopelik die eindstryd haal? Gaan die beste span speel? Skielik is die inmenging met die spankeuse in die halfeindstryd in 2015 weer in die prentjie toe Vernon Philander bo Kyle Abbott ingesluit is. Bog, Vern was goed, maar ons het verloor. En AB de Villiers se trane bly spook by ons.