Onlangs by ’n private gesprek oor die kloof tussen wit en swart en Afrikaans- en Engelssprekende kinders by ’n dubbelmedium-hoërskool is die kommentaar van ’n ouer dadelik: Die taalbeleid moet verander. Dus: Afrikaans moet verdwyn.
Ek kan net my kop skud met sulke uitsprake. Afrikaans is lankal uitgeskop in die Mangaung-metromunisipaliteit, en dié instansie is ondanks die ingryping van pres. Cyril Ramaphosa ’n klaaglike mislukking. En dit in Engels.
Afrikaans is lankal keelaf gesny by die regering. Ek is nie van diegene wat daarop aandring om altyd in Afrikaans bedien te word nie, maar die comrades wat die laaste Afrikaanse skole wil teiken, moet dalk kyk wat hulle in Engels regkry. Engels is nou die taal van die onderdrukker en van swak dienslewering in die land.