Steve Hofmeyr se erkenning dat hy kwetsend was teenoor die LGBTQIA+-gemeenskap en sy skikking met die Menseregtekommissie (MRK) om R100 000 aan so ’n organisasie te skenk, wys hoe ’n bevinding streng toegepas en ’n geskil besleg is.
Die MRK het ook met sy uitspraak dat die Universiteit Stellenbosch (US) met sy beleid in koshuise die menseregte van studente geskend het deur hulle te verbied om Afrikaans in sosiale kontekste te praat, ’n dapper en regte beslissing gelewer.
Prof. Wim de Villiers, die rektor, moet persoonlik die eerstejaarstudente om verskoning vra wat verneder is deur seniors deurdat hulle nie met mekaar Afrikaans mag praat nie. Ek glo hy gaan dit in Afrikaans doen, ’n taal wat sir Div nie meer so geredelik praat nie.