Een sportfoto wat my altyd bybly is van die Griekwa-senter Dries Scholtz wat in die afseisoen hout gekap het op sy plaas by Douglas om sterk te word vir rugby. Dit moes hier teen 2004-’05 gewees het.
Die foto is deur wyle Chris Smith, Volksblad se destydse sportjoernalis in Kimberley, geneem. Scholtz was ’n reus van meer as 100 kg wat eers vir die Bulle en toe vir Griekwas gespeel het. Die spiere het op sy bo-arms gebult.
Ek vereenselwig Scholtz met Griekwa-rugby. As jy Kimberley toe reis vir ’n wedstryd, moet jy ekstra Deep Heat en pleisters inpak. Die kans dat jy die Groot Gat sommer in die stadion gaan sien, is goed. Vra gerus die Cheetahs wie se seisoen op die Windhoek Draught-park daar ontspoor het nog voordat hulle teen die Pumas in die Curriebeker-halfeindstryd verloor het.