Die leeujag van koning Misuzulu ka Zwelithini van die Zoeloes vir sy kroningsplegtigheid die afgelope naweek het ’n debat oor die botsing tussen tradisionele kulturele praktyke en moderne omgewingsbewaring laat opvlam.
Die bohaai is vir my as buitestander bietjie skynheilig. Die koning het die leeu net so wettig gejag met die hulp van ’n professionele jagter as buitelanders wat na Suid-Afrika vlieg en ten duurste mak leeus doodskiet. Net omdat dit jagters is wat ten duurste hiervoor opdok met permitte en al, maak dit nie die doodmaak van ’n leeu meer eties nie.
In die geval van die Zoeloes is die koninklike jagtog ’n tradisie wat eeue oud is. Een van my gunstelingboeke, P.J. Schoeman se Op groot spore, beskryf dié ekspedisie in die fynste besonderhede.