Nana vra of ek vesieke is dat ekkie Like Milk in my koffie wil hê nie.
“Daaisie ienagste melk wat hulle byrie hyswinkel oorie pad het, daa’s niks vekeed merrit ie.”
Die poelies het onlangs allie winkels innie skiem geraid en fake items gevind. Daa is beslag gelê op allerhande produkte, van blikkies boentjies en cooldrinks tot pakkies yeast. Vi jare was ôs onbewus dat ôs goed koep met labels annie buitekant wattie ’n akkurate beskrywing is van wat binne issie. Narie confiscation het dinge soes normaal angegaan. Meestal mense was baie forgiving en het net aangehou om byrie hyswinkels te koep. Maa nie ekkie. Ek’s heel skepties oorie sachet melk wat “Free The Cape, Vir Vryheid” agterop geprint het. Die logo isse WhatsApp smiley face emoji wat dym wys. Ek sê vi Nana die hele design is weird, maa issie Like Milk naam wat my rerag omkrap.