Steun vir die ANC daal steeds, wys peilings, skryf Christi van der Westhuizen. En as dit die begin van die einde van die ANC is, waar en hoe gaan dit eindig?
Is dit die begin van die einde vir die ANC? Twee nuwe peilings, bekendgemaak deur Ipsos en Rapport, bevestig wat verlede jaar se plaaslike verkiesings aandui: Die ANC gaan waarskynlik nie die land alleen kan regeer ná die 2024-verkiesing nie.
Dit maak die 2024-verkiesing ’n massiewe toets vir Suid-Afrika. Die basiese definisie van demokrasie is dat politieke elites vreedsaam deur middel van die stembus verwissel word. In die demokratiese era het Suid-Afrikaners nog nie voor dié uitdaging op nasionale vlak te staan gekom nie.