Suid-Afrika betree ’n fase waarin pres. Cyril Ramaphosa die land uit die rampspoedige Covid-19-fase moet lei deur ekonomiese herstel na standhoudende groei en ’n stabiele toekoms.
Dit bring ons dan terug by die pre-Covid-19-debat oor hóé? Ramaphosa kan daaroor bloot luister na ’n klompie nuttige wenke uit eie geledere, as hy dan nie aptyt het vir allerlei stuurmanne aan wal nie. Indien hy sorgvuldig luister en ’n paar aantekeninge doen, kan hy gou-gou ’n herstelplan byderhand hê waarvoor hy wye steun sal ontvang.
Die eerste, en waarskynlik belangrikste, wenk kom van ?Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. ’n Mens kan amper die frustrasie aanvoel in sy woorde toe hy onlangs voor die Kaapse Persklub gepraat het oor ekonomiese oplossings vir die land: “Vat net die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en stel dit in werking.” Hy voeg dan by dat daar al verskeie planne was, maar dat nie een uitgevoer is nie. Hy vra as ’n begin dat enige drie punte in die plan tog net in werking gestel word.