Een van die mees ingrypende stellings tot nog toe deur ’n ANC-president is die groot rigtingverandering in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede: “ ’n Regering skep nie werk nie – hy skep die regte omstandighede vir groot en klein ondernemings om te floreer, meer mense in diens te neem, nuwe markte te ontgin en nuwe produkte te skep.”
Dit is ’n streep deur sosialisme, as daar ooit een was. Maar die louwarm ontvangs onder die einste sosialiste, kommuniste en Staliniste in die Kaapstadse stadsaal oor die stelling was selfs oor die TV-uitsending aanvoelbaar.
Nietemin het Ramaphosa vriend, vyand en ontleders verras met ongetwyfeld sy beste staatsrede tot nog toe. Hy het energiek voorgekom en was in ’n bui om sake te doen. Weg was die gewone herdenkings van afgestorwe veterane, lang poëtiese aanhalings of beeldspraak.