Die DA was sedert sy teleurstellende vertoning in die algemene verkiesing van 2019 nogal sensitief vir opmerkings dat hy al hoe meer na regs swaai in ’n poging om die steun terug te wen van konserwatiewe kiesers wat hom destyds die rug toegekeer het.
Kommer daaroor en kritiek daarop is gewoonlik begroet met die stelling dat die DA nou ’n “nuwe” party is wat na die belange van almal wil omsien en dat hy nie sekere groepe met sy beleid en optrede wil vervreem nie.
Maar dit is in sy veldtog vir vanjaar se munisipale verkiesings duidelik dat die DA, of minstens ’n beduidende groep in dié party, wel glo dat meer konserwatiewe geluide kiesers sal teruglok wat twee jaar gelede hul kruisies agter veral die naam van die VF Plus getrek het.