Dit is eenvoudig verstommend om te sien hoe die DA weer die kans laat verbygaan om munt uit ’n krisis in die ANC te slaan deur homself by elke denkbare geleentheid(en met die hulp van sy oudleiers) in albei voete te skiet.
Pleks van om al sy tyd en energie te wy aan ’n behoorlike veldtog vir die munisipale verkiesing, moet die DA nou keer dat sy spreekwoordelike vuil wasgoed nog ’n keer in die openbaar gewas word.
Die nuutste relletjie volg op die oudleier Tony Leon se uitspraak dat ’n ander oudleier, Mmusi Maimane, se aanstelling in die DA se top-pos ’n eksperiment was wat skeefgeloop het. Dit het aanleiding gegee tot hernieude beskuldigings dat die DA rassisties is en dat swart mense in dié party nie werklik kan tuisvoel nie.