Dit is dag 564 van die Covid-19-pandemie. Die derde golf was baie erger as wat voorspel is. Baie mense (ook ek) het familie, vriende en kollegas verloor. Dit is die pyn van Covid-19.
Soos baie landsburgers is ek verheug dat ons nou op vlak 1 van inperking is, maar ek stem egter nie saam met al die nuutste regulasies nie. Om 750 mense binnenshuis en 2 000 buitenshuis toe te laat, is gek en kan net polities gemotiveerd wees.
Daar is ook ’n mooi kant. Oktober is die mooiste, mooiste maand, het C. Louis Leipoldt gedig. Hopelik het onderwysers hul klas uitgeneem om die lente te groet. Dalk gesing: “Dit is weer lente, winter is verby . . .” In meer as een opsig is die winter inderdaad verby.