Ek wil jou nog vertel van die heel laaste vertoning van die Boswell-Wilkie-sirkus wat ek bygewoon het, oom Braam.
Die klomp wat vroeër met die Makadas daar by julle in die Klein-Karoo aangekom het, in die dae toe die sirkusmense nog per trein deur die land gereis het. Die artieste, die musikante, die olifante, leeus en perde; en Eric Hoyland, ofte wel Tickey, die nar met sy rooi neus wat soos ’n rubberbal kon val en opspring en trane met tuite gehuil het om ons te vermaak.
Ek het al gewonder of dit Tickey is waaroor jy geskryf het in daardie storie van jou oor die nar wat sy eie lewe probeer neem het toe die sirkus op Touwsrivier was.