Laatmiddag skakel ek die rekenaar af, moeg vir woorde, en roep die twee honde: “Kom, kom, kom, ons gaan stap!” Die swarte wip uitgelate op en af. Die bruine kom stadig orent, sy is maklik al 14 jaar oud, en gee haar hees blaffie.
Die selfoon bly by die huis. Net myself neem ek saam.
Dan vat ons die pad, verby die plataanboom waar die vinkmannetjie besig is om reeds die vierde nes te bou. Elke keer kom inspekteer mevrou die nes, kwetter haar la-di-da-besware en vlieg weg, snawel in die lug. Die piet-my-vrou het ook al kom ondersoek instel.