Hy is bekommerd oor die taan van ’n leeskultuur en dat ons daardeur verleer om krities te dink, skryf Dawid Kuyler.
Lees maak wêrelde oop. Ons weet dat onder andere die Sumeriërs in die Midde-Ooste begin het om te skryf, hoofsaaklik om by te hou met handelstransaksies.
Later het skrif ontwikkel om meer as net ’n ekonomiese doel te dien. Verhale en idees is op skrif gestel om dit vir die nageslag te bewaar. Voor die koms van skrif is verhale mondelings oorgedra en dit het met groot noukeurigheid plaasgevind. Om iets van die verlede te weet, was jy aangewese op die gemeenskap en veral hulle wat die stories moes oorvertel. Jy moes daar wees as die stories vertel is.