Dit is op 3 Februarie presies 100 jaar gelede dat genl. Christiaan Rudolph de Wet in sy huis op die plaas Klipfontein, naby Dewetsdorp, dood is.
Ek was bevoorreg om Rentia Joubert in dié huis te ontmoet toe sy die monument ter ere van die generaal in sy ou klipskuur naby die huis gebou het. Die pragtige monument is Sondag op die plaas onthul.
Ek kon weens Covid nie die onthulling bywoon nie, maar ek is bevoorreg om Joubert te kon ontmoet en in De Wet se voetspore te kon loop. Dit is ’n besonderse plaas en opstal met die pragtigste tuine. Agter die huis groei sy vyeboom steeds en elke gas het Sondag ’n steggie van die boom gekry. Só lewe die geskiedenis voort in baie tuine in die land.