Die skerpste kante van Suid-Afrika se onnodig streng inperkingsmaatreëls is onlangs effens versag deur pres. Cyril Ramaphosa. Ons kan voortaan die buitelug aandurf sonder maskers, maar die grenseloos irriterende stukkie lap bly in binnenshuise openbare ruimtes steeds ’n verpligting.
Sportstadions mag met 50% van enige kapasiteit gevul word, mits die toeskouers bewys kan lewer van inentings of ’n SARS-CoV-2-toets in die voorafgaande 72 uur. En dan – halleluja! – word die wenslik-verpligte gesonde afstand tussen mense verminder van 1,5 m na 1 m; dit kan wel minder wees by skole. (Hoekom nie ook tersiêre onderriginstellings nie?)
Dit is nogtans grootliks goeie nuus. As maatreëls in ons huidige situasie met Covid-19, is dit wel hopeloos te min en te laat. Ons is almal bewus van hoe merkbaar die getalle infeksies en sterftes in die afgelope paar maande afgeneem het. Wat ’n mens omkrap, is die flou verskoning wat aangebied word waarom die “ramptoestand” nog nie opgehef is nie. Die feit is dat daar lankal glad nie meer ’n “ramptoestand” in Suid-Afrika is nie.