Met die Covid-19-pandemie het ons besef hoe ’n groot deel van ons identiteit ons woon- en werkplekke geword het, skryf Dawid Kuyler.
Die laaste dekades en veral die afgelope twee jaar het daar ’n verskuiwing gekom in hoe ons ons woon- en werkplek identifiseer en beleef.
Tradisioneel was jou woonplek die fisieke adres waar jy gewoon het en jou werkplek die fisieke adres waar jy gewerk het. Die enigste mense wie se woon- en werkplek dieselfde was, was dikwels kafee-eienaars wat in die woonstelletjie bokant of agter hul kafee gewoon het. Huisvrouens was ook in dieselfde bootjie hoewel mans nie gedink het huishouding is ’n werk nie. Gewone mense het hul woonplek soggens verlaat en saans weer teruggekeer.