Tydens ’n besoek aan die Wildekus kom MC Botha en sy reisgenoot Schalk le Roux af op ’n vrou wat by ’n rivier in vloed gereed maak om haar eie lewe te neem.
Dis na ’n afwesigheid van 11 jaar dat ek weer kans kry om my geliefde Wildekus te besoek. Schalk le Roux gaan saam op dié paar weke van voetslaan op verskillende roetes tussen Koffiebaai en Mazeppabaai.
Ons hou by ons aanvanklike plan om met my bakkie tot by Kei Mouth te ry, daar die rivier met die pont oor te steek en dan met agterpaadjies in die ou Transkei noordwaarts te ry waar ons staptog sou begin. Hewige reën die voorafgaande dae in die Keirivier se opvanggebied het die rivier egter in vloed laat afkom en die pont-operateur sê daar’s geen kans om dié breë snelvloeiende stroom oor te steek sonder om ingesleur te word see toe nie.