Die stof het nog lank nie gaan lê oor prins Harry se onthullings in sy boek nie. Maar daar is sekere dinge wat nie eens ’n Eton-opvoeding vir jou kan koop nie, skryf Lourensa Eckard.
Na jare van stilbly en wegkruip, was dit seker te verwagte dat prins Harry iewers iets sal sê. Harry se skeur van sy familie was ’n morsige storie. Die afsterwe van sy ouma, koningin Elizabeth II, was duidelik die groen lig wat die rooikop-prins nodig gehad het om die sluise oop te maak.
Dis beter dat ouma nie hoef te lees hoe haar geliefde kleinseun sy maagdelikheid verloor het nie (agter ’n kroeg, ouer dame en, in sy eie woorde, “gery soos ’n perd”) of hoe baie dwelms hy al geneem het nie (’n inkopie-sak vol dagga is op een geleentheid gerook) of natuurlik hoe sy broer, prins William, hom fisiek te lyf gegaan het ná ’n onderonsie nie. Harry weet dít is die soort krummels wat die gepeupel sal verslind en dis ook beter dat hy wat Harry is dit vir hulle opdis, want vir te lank het die gewraakte Britse pers dit gedoen en letterlik volgens Harry, weggekom met moord.