Daar is in my kaal kop twee goed wat ek altyd met Senekal verbind, en nie een van die twee het met geweld, rooi kepse of rassespanning te doen nie. Watergeweld miskien wel.
Senekalwers is van 1877 af al vreedsame mense (behalwe as hulle nie vreedsaam is nie). Vra maar vir Naka en Toks. Maar laat ek eerder begin by die nie-geweldadige, naamlik die geweldige lekker lamsosaties wat by slaghuise daar in die systrate verkoop word.
Jy kan nie kies tussen die twee slaghuise se sosaties nie en dus koop jy maar by albei. Bygesê, as daar voorraad is. Glo my, ek het al in die verlede myself wysgemaak dat die roete oor Senekal die kortste pad tussen Tshwanetoria en Mangaubloem is, net om my voorraad sosaties te kan aanvul.