Dit is nog vroeë dae in die korona-krisis, maar nou reeds het dit uiteenlopende gevolge vir verskillende staatshoofde. Voor die uitbreek van die krisis was pres. Cyril Ramaphosa besig om al hoe geleideliker ’n greep op die interne dinamika van die ANC te kry, maar hopeloos te stadig om vinniger by sinvolle oplossings vir sy groot uitdagings – die openbare ondernemings soos Eskom en die SAL – uit te kom.
Pres. Donald Trump van Amerika was op sy eie golf. Hy het geweet die Demokrate het te min stemme om hom deur ’n staat van beskuldiging te ontslaan en die ekonomie het steeds gedy. En hy was op sy beste om oor sy selfopgestelde lys van eie prestasies te spog en ander in hoogs beledigende taal te takel. Selfs lojaliste uit sy binnekring is afgedank as hulle durf verskil het.
Toe kom daar ’n groot krisis. Iets wat ’n politikus tot groot hoogtes kan aangryp om te wys dit is waarvoor hy daar is –staatsmanskap. John F. Kennedy met die Kubaanse missielkrisis en Winston Churchill met die Tweede Wêreldoorlog het hulself só gevestig.