Die EFF het nie te waffers by die stembus gevaar nie, maar agterna ’n uitstekende strategiese spel gespeel wat dalk net sy weg tot die nasionale regering in 2024 kan baan, skryf Christi van der Westhuizen.
Die maneuvers rondom die regerende beheer van munisipaliteite ná die onlangse plaaslike verkiesings het vir onverwagte uitkomste gesorg. Een ding is egter seker: die EFF het die situasie met strategiese presisie hanteer wat vir die party in 2024 ’n pad na die nasionale regering kan baan.
Hoewel die EFF by steun van 10% gestagneer het, het die party die afgelope paar weke goed gevaar deur as getrou aan beleid en slim met politiek oor te kom. Daarteenoor het die ander opposisiepartye onder tweespalt en verwarring gely.