Sy is bang vir spinnekoppe, roltrappe, slotte, toilethokkies, storms, hoogtes, dieptes, donderweer, die donker en kragproppe. Maar dis die innerlike vrese wat haar wérklik kniehalter, skryf Erla-Mari Diedericks.
In my vorige rubriek het ek gewonder wat my lewenstema sal wees vir die nuwe jaar. Uiteindelik het ek besluit op vreesloosheid. Ek het my besluit op Facebook geplaas. Die reaksie van my vriende hierop het my laat besef dat vrees iets is waarmee baie mense sukkel.
Vrees is tog een van ons mees basiese emosies. Nie net dit nie – dit is ook in ons senustelsel geprogrammeer en werk soos instink. Dit maak sin, want vrees is daar om ons te beskerm teen gevaar.