Wanneer ek met sakeleiers uit verskillende sektore gesels, is daar tans positiewer gesprekke tussen politici, die staat en sakeleiers as wat ons in dekades ervaar het.
Die regering koester die beginsel van samewerking tussen die openbare sektor en private kapitaal. Deels omrede die owerheid se sakke plat is, maar ook omdat pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, verstaan wat die vereistes is om nuwe kapitaal te lok. Of dit nou buitelandse kapitaal is (Pepsico wat Pioneer koop) of binnelandse kapitaal (Atterbury wat ’n ontwikkeling van R6 miljard suidoos van Pretoria aanpak), die beginsels van risiko, opbrengs en langtermynvertroue bly presies dieselfde.
Terwyl die president in Londen saam met ’n A-span, wat Johann Rupert ingesluit het, sy bes gedoen het om Suid-Afrika as ’n beleggingsgeleentheid aan die wêreld se fondsbestuurders en bankiers ten toon te stel, kom Eskom met ’n onverwagse plettervat!