Is die mens net soos bome of is bome nes ons? Wat my daaroor laat dink, is die boek op my bedkassie: The Hidden Life of Trees: What They Feel, How They Communicate – Discoveries from a Secret World deur Peter Wohlleben. Ook wat moontlik fout is met die menswoud.
Die eerste hoofstuk gaan oor vriendskappe tussen bome, veral in gevestigde, natuurlike woude – en hoe hulle mekaar aan die lewe hou en ondersteun, juis omdat hulle afhanklik van mekaar is. Hul wortels is nou inmekaar verweef en hul takke en blare dien as beskutting en beskerming vir mekaar.
Bome in plantasies het nie die luukse van tyd om te groei en hul takke uit te sprei en skaduwee aan mekaar te bied nie. Hulle leef soos kluisenaars en ook nie baie lank nie. Daar is ook nie tyd om ’n hegte netwerk te vorm om die boom neffens jou te waarsku teen ’n insek in die omte wat aan blare hap nie.