Jy moet vorms invul. Jy kan nie daarvan wegkom nie. Vul die vorm in.
In my gesin is daar mense wat nie hou van vorms invul nie. Wel, ek hou ook nie daarvan nie. Maar die invul van vorms kom uiteindelik af op my, die verantwoordelike volwassene wat nou al meer as een mens se identiteitsnommer, selfoonnommer en e-posadres uit my kop ken. Daar is geen ontsnapkans nie, geen agterdeur om by uit te glip nie. Jy moet daardie vorm invul.
Die hele mensdom word soos by ’n beesdip tot stilstand gedwing. Die drukgang is daar. Hier moet jy deur. Dit is makliker vir ’n ryk man om deur die oog van ’n naald te kom, as vir die 21ste eeuse aardling om die invul van vorms te vermy.