’n Besoek aan die Ditsong: Kruger Museum in Pretoria is ’n moet. Nie alleen omdat dit tussen 1884 en 1900 die woning van pres. Paul Kruger in die belangrikste fase van sy lewe was nie, maar ook omdat dit iets van sy eenvoudige leefstyl weerspieël.
Ná die Eerste Vryheidsoorlog het Kruger op 16 November 1881 persoonlik die erf waarop Krugerhuis gebou sou word van James Kelly vir £550 gekoop.
In Mei 1883 is Kruger as staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek ingehuldig. Voordat hy vir onderhandelinge oor die republiek se status na Londen vertrek het, het hy die oordadige planne wat Alois Nellmapius vir sy huis beoog het, drasties afgeskaal. Nellmapius was ’n Hongaarse Jood wat ’n regeringskonsessie verkry het om buskruit te vervaardig. Kruger het aan sy staatsprokureur, dr. W.J. Leyds, vertel dat hy die boukoste van die huis self gedra het, maar Leyds het verneem dat Kruger skynbaar net die helfte daarvan bygedra het. Of Nellmapius die res bygedra het, weet ons nie vir seker nie.