Is die naam Spesiale Diensbataljon (S.D.B.) al in die regering se oor gefluister? Want tydens die Depressie in 1933 is hierdie eenheid in die Unie Verdedigingsmag geskep in ’n tyd van kritieke werkloosheid.
Goedkoop swart arbeid het die ongeskoolde blanke arbeider onder druk geplaas. Daarom was die S.D.B. ’n poging om die armblankevraagstuk aan te pak en aan blanke jong mans opleiding te verskaf wat hulle ’n aanwins vir die arbeidsmark kon maak. Kmdt. W. Otto het daaroor geskryf.
Op 17 Maart 1933 het kol. sir Pierre van Ryneveld, direkteur van lugdienste en voorsitter van die keurraad vir kadette van die staande mag, die stigting van ’n spesiale eenheid in die departement van verdediging aan die hoof van die generale staf, genl.maj. A. J. E. Brink, voorgestel. Behoeftige jong mans sonder vooruitsig van werk kon daarin teregkom, “where they would be kept fit and active until they could be drafted into suitable works and services”.