In die vroeg 1980’s het O.J.O. (Cobus) Ferreira my op die belangrikheid van die Standard Encyclopaedia of Southern Africa (SESA) gewys.
“Dit vul die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing pragtig aan,” het hy verduidelik. Hy het gelyk gehad, maar hoe relevant en nuttig is die volle 12 dele van SESA vandag wat tussen 1970 en 1976 verskyn het?
Die SESA-projek het byna 20 jaar geduur – van sy beplanningstadium in 1957 tot die verskyning van deel 1 in 1970 en uiteindelik die laaste deel, deel 12, in 1976. Die hoofredakteur was D.J. Potgieter. Soos hy tereg in die inleiding erken het Suider-Afrika in dié tyd groot politieke en geografiese veranderings ondergaan, en moes dit voortdurend deur die redaksie in berekening gebring word.