Niemand kon ’n beter kommentaar-atmosfeer skep as Gerhard Viviers nie, daardie legende in Afrikaanse sportuitsendings tussen die 1960’s en 1980’s. Maar waar het al daardie Afrikaanse sportterme vandaan gekom?
Waar Afrikaans na Nederlands gekyk het om teen anglisismes in ’n tyd van opkomende Afrikaner-nasionalisme te waak, was dit onmoontlik om vir sportterme by die Nederlanders aan te klop. Hulle het dan cricket, innings, wickets, match en handicap gebruik.
Steve de Villiers, Afrikaanse krieketkommentator en later hoof van die SAUK, sê die eerste Afrikaanse sportterme is in 1917 in die Uitspankafee in Stellenbosch gebore. Lede van die Afrikaanse Taalvereniging (AT) onder leiding van prof. J.J. Smith met Tobie Muller, Gordon Tomlinson, Ben de Wet, Stephen Eyssen en andere het hulle vir die bevordering van Afrikaans beywer. Hulle besluit toe om ook die sportveld op taalgebied te betree. Dit was dieselfde jaar wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns sy Afrikaanse woordelijs en spelreëls bekend gestel het.