Dit is onmoontlik om aan die toekoms van tersiêre onderwys – in Suid-Afrika en die res van die wêreld – te dink sonder om die direkte en beduidende uitwerking van Covid-19 op dié landskap in aanmerking te neem.
Sonder om die verwoesting en omwenteling van die afgelope 21 maande af te maak, is daar talle lesse wat hoër onderwysinstellings en universiteite in dié tyd geleer het wat toegepas kan word om ’n suksesvolle toekoms te help verseker.
Een van die duidelikste silwer randjies is die vinnige vooruitgang wat gemaak is in die innoverende gebruik van tegnologie vir vergaderings, kommunikasie, onderrig en leer. Die grense tussen tradisionele onderrig en afstandonderrig vervaag al jare lank, maar die pandemie het daardie afbakening vinnig uitgewis. Dit het die voordele van aanlyn konferensiestelsels soos Zoom en Google Meet belig, waardeur kenners van enige plek ter wêreld by aanlyn klasse kan inskakel terwyl lesings ook vir latere gebruik opgeneem kan word.